ONTmoet JOU
AMBASSADEURS
Hier is ons nuwe ambassadeurs!
Alicia Venter
MyHartland-ambassadeur het ‘diep begeerte’ om te bemoedig
Emigrasie is nie altyd maklik nie, en vir baie mense gaan dit dikwels met gevoelens van verlies, verlange en eensaamheid gepaard.
Dit is juis hierdie mense – wat soms baie alleen op hul emigrasiereis voel – wat die Afrikaanse beïnvloeder en “Saffa Mamma” Alicia Venter van Komyn en Komyntjie na aan die hart lê.
Daarom is sy ook trots daarop om voortaan as ambassadeur vir MyHartland in Australië te dien. MyHartland is ’n virtuele kultuurtuiste wat Afrikaners wêreldwyd met mekaar en hul geboorteland verbind.
“Ek wil veral die persoon bereik wat aan die anderkant van ’n skerm sit en voel niemand verstaan waardeur hulle gaan nie. Indien my rol as ambassadeur daartoe kan bydra dat iemand ’n gemeenskap ontdek, ’n nuwe verbinding maak, weer hoop kry of bloot besef ‘hier is ook plek vir my’, sal dit vir my betekenisvol wees,” het sy in ’n onderhoud aan MyHartland gesê.
“Ek wil nie net MyHartland verteenwoordig nie; ek wil help om die hart daarvan sigbaar te maak.”
Venter weet immers wat dit verg om jou hele lewe in ’n tas te pak en nuwe wortels in ’n vreemde land te plant.
Sy en haar gesin het in 2023 van Rustenburg in Noordwes na Brisbane in Australië verhuis, waar Venter nou as ’n hulponderwyser werk terwyl sy haar studies in sielkunde, geestesgesondheid en berading voortsit.
“Emigrasie het my op baie maniere uitgedaag, maar dit het ook ’n nuwe passie in my wakker gemaak vir mense wat deur verandering, verlies, eensaamheid en nuwe beginne stap.”
Venter sê nadat sy self geëmigreer het, het sy besef hoe belangrik dit is om steeds te voel jy “behoort”.
Daarom vind sy in besonder aanklank by MyHartland en die afdeling wat op gemeenskap, ondersteuning en verbinding fokus.
“Jy kan ’n nuwe lewe bou en terselfdertyd steeds diep lief wees vir die mense, taal en kultuur waaruit jy kom.
“Ek het ook ’n besondere hart vir mense wat stil-stil swaarkry. Ek glo daar is ongelooflike waarde daarin wanneer ons vir iemand kan sê: ‘Jy hoef nie hierdie deel van jou reis alleen te stap nie.’”
Venter se diep begeerte om mense te bemoedig was destyds ook die dryfkrag agter haar gewilde platform, Komyn en Komyntjie, wat tans meer as 11 000 volgelinge op Facebook het.
Met Komyn en Komyntjie wou Venter ’n plek skep waar mense kan asemhaal, behoort, groei en hoop vind. Sy beskryf dit as plek vir “eerlike gesprekke, ware stories, God se Woord en die herinnering dat jou storie nog nie klaar geskryf is nie”.
Dié mamma van drie sê voorts sy is op haar gelukkigste om mense – dikwels met ’n koppie koffie in die hand en diep in gesprek.
Dit maak haar ook kinderlik opgewonde om mense bymekaar te bring – iets wat sy lankal reeds met Komyn en Komyntjie doen en nou ook as MyHartland-ambassadeur.
“Ek is gewoonlik die een wat reeds die volgende kuier, vroue-oggend, Zoom-sessie of projek beplan voordat die huidige een eers klaar is!
“Ek glo die lewe het genoeg ernstige oomblikke – daarom wil ek nooit die vermoë verloor om oor die klein dinge opgewonde te raak nie.”
Abré van Wyk
‘KarooKiwi’ wil Afrikaners wêreldwyd verbind
Daar is ’n gewilde gesegde wat lui: “Uit die oog, uit die hart.” Dit is egter nie van toepassing op Abre van Wyk, oftewel KarooKiwi, nie.
Sedert Van Wyk, ’n geoktrooieerde rekenmeester, in Januarie 2025 die moeilike besluit geneem het om ’n nuwe hoofstuk in Nieu-Seeland te begin, was een van sy grootste doelwitte om Suid-Afrikaners regoor die wêreld te verenig. Vandaar die ontstaan van sy gewilde platform, KarooKiwi, wat diep in die kwessies delf wat elke sogenaamde Saffa (Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon) raak – van geloof en finansies, tot braai en biltong.
Van Wyk is onlangs ook as ambassadeur van MyHartland in Nieu-Seeland aangewys. MyHartland is ’n virtuele bymekaarkomplek vir Afrikaners in die buiteland. Dié platform, wat deel is van die Solidariteit Beweging, het onder meer ten doel om Afrikaners wat oorsee woon of werk in voeling met hul tuisland te hou en fokus onder meer op kultuur, taal, entrepreneurskap, Afrikaner-projekte en -kinders, gemeenskap, werk en nuus – alles so reg in Van Wyk se kraal.
Dit is veral MyHartland se fokus op entrepreneurskap wat Van Wyk na aan die hart lê.
“As iemand wat ’n entrepreneur in murg en been is, altyd duisende planne het en geleenthede in chaos kan raaksien, glo ek vas daarin om Afrikaanse sake-eienaars en professionele mense regoor die wêreld te ondersteun. Hierdie afdeling skep ’n kragtige platform waar ons netwerke kan bou, sakegeleenthede kan ontgin en mekaar kan help om te groei en te floreer.”
Net soos met KarooKiwi, wil Van Wyk Afrikaners, en besonder Afrikaanse entrepreneurs en professionele persone, deur sy rol as ambassadeur van MyHartland bymekaarbring.
“Ek wil my passie vir entrepreneurskap en my ‘glas-half-vol’-benadering tot die lewe gebruik om Afrikaanse entrepreneurs en professionele mense regoor die wêreld met mekaar te verbind.
Ek wil mense inspireer om selfs in uitdagende tye geleenthede in die chaos raak te sien en aan te gryp. Deur praktiese waarde te bied, netwerke te versterk en samewerking te bevorder, wil ek help bou aan ’n platform wat ons mense ekonomies én kultureel ondersteun sodat hulle kan floreer waar hulle ook al is.”
Van Wyk wil ook ’n boodskap van hoop en positiwiteit uitdra en mense herinner dat enige uitdaging met geloof, genade en die regte ingesteldheid oorbrug kan word. “Vir my gaan dit daaroor om ’n stewige nalatenskap vir die volgende geslag te help bou, waar ons taal, waardes en tradisies lewendig gehou word. Ek wil ’n brug bou vir Afrikaanse mense wêreldwyd sodat almal geliefd, ondersteun en tuis voel binne die MyHartland-gemeenskap.”
Van Wyk het in Worcester in die Wes-Kaap grootgeword en aan die Universiteit van Stellenbosch studeer. Hy en sy vrou, Adorée, is al 13 jaar getroud en het onlangs hul eersteling, Eric, verwelkom.
Hoewel Van Wyk reeds duisende volgelinge op sy onderskeie sosialemediaplatforms het, beskou hy homself as ʼn gewone mens met gewone uitdagings en been en bowenal ’n volgeling van Jesus.
Mariska Nanni
Nuwe MyHartland-ambassadeur bou ʼn stukkie tuiste in Tennessee
Daar is deesdae ’n paar dinge wat Mariska Nanni kinderlik opgewonde maak: wanneer haar man in die middag by die huis kom, rustige oggende saam met haar driejarige dogtertjie, ’n boodskap van een van hul hartsmense in Suid-, en Mrs Ball’s Chutney op ’n winkelrak by Publix.
Laasgenoemde sou waarskynlik ’n jaar gelede nie noodwendig die lys gehaal het nie, maar Nanni en haar gesin woon nou in Chattanooga, Tennessee, meer as 13 000 km van Pretoria waar sy voorheen gewoon en gewerk het en wanneer ’n mens so ver van die huis af is, kry die bekende dinge soms nuwe betekenis. Selfs boerewors.
“Ons kan regte, egte boerewors by Don’s Butchery, ’n klipgooi van ons af, koop,” vertel sy.
Snaaks genoeg is dit nie net bekende Suid-Afrikaanse geure wat hulle in Tennessee gevind het nie. Die meeste vriende wat die gesin tot dusver in die VSA gemaak het, is ook Afrikaans.
“Dit laat die huis tog ’n bietjie nader voel.” Afrikaans was nog altyd ’n groot deel van Nanni se wêreld. Sedert haar universiteitsdae aan die Noordwes-Universiteit, of sommer net die Pukke, het sy in ’n sterk Afrikaanse leef- en werksomgewing beweeg.
Sy het haar loopbaan as joernalis by die destydse Tshwane-Beeld begin en in 2014 as mediaskakelbeampte by AfriForum aangesluit. Sewe jaar later het sy na die joernalistiek teruggekeer en by Maroela Media gewerk, voordat sy uiteindelik as kommunikasiespesialis by die Solidariteit Beweging aangesluit het.
Die skuif na Amerika het haar wêreld behoorlik vergroot. “Ek is nou heeltemal uit my gemaksone in die VSA,” erken sy. Tog het die afstand haar ook opnuut laat besef watter dinge sy saam met haar wil dra.
“Dit is vir ons gesin baie belangrik om ons geloof, taal en kultuur te beskerm, te bevorder en lewend te hou, maak nie saak waar ons in die wêreld is nie. Sy het haar man in 2011, tydens Nanni se finale jaar op universiteit, ontmoet en hulle is albei baie geheg aan hul families. Hul ouers woon steeds in Suid-Afrika, terwyl Nanni se broer en sy gesin reeds die afgelope agt jaar in Austin, Texas, woon.
Dit is daarom juis MyHartland se Kinderhoekie wat haar aandag trek.
“Ek geniet die Kinderhoekie vreeslik. Dit bied die geleentheid om jou kinders se liefde vir Afrikaans verder te bevorder, maak nie saak waar in die wêreld jy is nie.”
Haar eie ervaring van ’n nuwe lewe ver van Suid-Afrika maak haar nuwe rol as MyHartland-ambassadeur in die VSA ook besonder persoonlik. “MyHartland bied ’n fantastiese geleentheid om eensgesinde mense bymekaar te bring en só kleiner Afrikaanse gemeenskappe in die buiteland te vorm en te versterk. As ambassadeur wil ek graag help om die Afrikaanse gemeenskap in die VSA weer ‘nader’ aan hul hartland te bring.”
Vir Nanni beteken verbondenheid egter nie net om Afrikaans te praat of Suid-Afrikaanse produkte in ’n Amerikaanse winkel raak te loop nie. Dit beteken ook dat ’n mens van ver af steeds iets kan beteken.
Daarom lê die Kosblikkieprojek haar besonder na aan die hart. “Dit is hartverskeurend om te sien dat daar soveel behoeftige kinders daarbuite is. Dit is egter bemoedigend om te weet dat die Solidariteit Beweging en sy onderskeie organisasies soos Helpende Hand soveel doen om mense op te hef, en dit maklik maak om steeds betrokke te raak al is jy in die buiteland.”
Tussen die aanpassing by ’n nuwe land, nuwe mense en ’n nuwe ritme, bly daar genoeg ruimte vir die dinge waarvan sy nog altyd gehou het. Sy skryf, lees, verf en teken graag, is lief vir fotografie en geniet dit om tyd saam met haar gesin en hartsmense deur te bring.
Sy hou ook van braai – met ’n belangrike voorbehoud: “eintlik hou ek daarvan om te kyk hoe my man braai, want niemand braai so lekker soos hy nie”.
Dalk is dit uiteindelik juis dié klein dinge wat die afstand tussen Pretoria en Tennessee korter maak: ’n Afrikaanse gesprek, ’n oproep van die huis af, ’n rustige oggend met haar dogtertjie, haar man agter die braaivleisvuur, en ja, selfs Mrs Ball’s by Publix, want vir Nanni gaan tuis voel klaarblyklik minder oor waar ’n mens jou bevind, en meer oor die mense, taal, geloof en kultuur wat jy saam met jou dra.