Skooltassie-projek bring vir die 19de jaar hoop aan behoeftige graad 1-leerlinge
Vir duisende behoeftige graad 1-leerlinge reg oor die land het die eerste skooldag van 2026 met selfvertroue en opgewondenheid begin toe hulle met ’n nuwe skooltassie op hul rug die klaskamer binnegestap het. Dit danksy Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek, wat vanjaar vir die 19de agtereenvolgende jaar behoeftige graad 1-leerlinge in Afrikaanse skole ondersteun.

Vanjaar is 2 000 goed toegeruste skooltassies aan leerlinge uitgedeel, met nagenoeg 160 skole landwyd wat by die projek baat gevind het. Dit is 30 skole meer as verlede jaar.
Oor die jare het verskeie bekende Suid-Afrikaners hul steun aan die Skooltassie-projek verleen en só gehelp om die boodskap van hoop en gelyke kanse verder te dra. Bekendes soos Bakkies Botha, die Afrikaanse sanggroep Jan Jan Jan, asook mediapersoonlikhede soos Lindie Strydom het deur hul betrokkenheid bewusmaking rondom die projek versterk. Meyer le Roux was ook oor die jare as ambassadeur by Helpende Hand-inisiatiewe betrokke.
Die skooltassies is op die eerste dag van skool aan die kinders oorhandig om te verseker dat elke leerling sy of haar skoolloopbaan met die nodige skryfbehoeftes en ’n gevoel van gereedheid kan begin. Die amptelike oorhandiging van 30 van die 2 000 skooltassies het op 14 Januarie by Laerskool Swartkop in Centurion plaasgevind, waar Helpende Hand se geliefde superheld, Braaf die Boerboel, saam met verteenwoordigers van die organisasie gehelp het om die tassies aan opgewonde graad 1-leerlinge te oorhandig.
“Vir ’n kind in graad 1 beteken ’n skooltassie soveel meer as net skryfbehoeftes,” sê Danelle du Plessis, projekorganiseerder van die Skooltassie-projek. “Dit gee behoeftige kinders die selfvertroue om skool toe te gaan en te voel hulle hoort.”
Elke skooltassie bevat ’n tassie, skêr, gom, skerpmaker, uitveër, liniaal, uitdraaikryte, inkleurpotlode, grys HB-potlode, ’n witbordjie, witbordmerkers en ’n pennesakkie. Vanjaar het Helpende Hand ook ’n ekstra tree gegee deur ’n volledige 2020-vertaling van die Bybel in elke tassie te plaas, met die ondersteuning van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

“Ons wil kinders nie net akademies toerus nie, maar ook help om met hoop en rigting te begin,” sê Du Plessis. “Die Bybel dra vir baie gesinne ’n boodskap van troos, waarde en behoort.”
Die projek is moontlik gemaak deur die ondersteuning van verskeie vennote. BIC het onder meer inkleurpotlode geborg en KIMOsource die liniale. Ander finansiële vennote sluit Boerboel Wear, Dinamika Finansiële Dienste en Fraaisokkies in.
“Die Skooltassie-projek bly daarop gemik om behoeftige kinders met waardigheid te laat begin en hulle toe te rus vir die pad vorentoe. Elke tassie dra dieselfde eenvoudige boodskap: Jy is kosbaar. Jou toekoms maak saak,” sê Du Plessis.
Besoek www.skooltassie.co.za om die projek te ondersteun en saam te help voorberei vir die groeiende behoefte aan nóg meer tassies in 2027.