Solidariteit Helpende Hand se Vrystaat-streek vier ’n besonderse mylpaal met sy Beertjie-projek wat troos na minstens 383 mense gaan bring wat dit die meeste nodig het.
Die Beertjie-projek is ’n inisiatief wat deel vorm van Helpende Hand se Vrystaat-streek se Emosionele Regulering-projek. Hierdie projek help kinders en volwassenes wat deur trauma, verlies of emosionele nood gaan, om hul emosies beter te verstaan en te hanteer. Die beertjies word nie net geskenk om troos te bring nie, maar dien ook as simboliese boodskappers van hoop, waarde en omgee.
Toe Die Hoeksteen Gemeente in Bethlehem van die projek hoor, het hulle onmiddellik ingespring om ’n bydrae te maak. Onder leiding van Petro Rautenbach het sowat 30 vrywilligers en gemeentelede, tussen 17 en 82 jaar oud, saamgespan om beertjies te brei. Die oorspronklike teiken van 100 is ver oortref met ’n verstommende 383 unieke handgemaakte beertjies. Die gemeenskap en Ons Winkel Bethlehem het wol geskenk, terwyl selfs mans wat nie kan brei nie, hul betrokkenheid getoon het deur geld te skenk waarmee wol aangekoop is.
Die beertjies is onlangs by Die Hoeksteen Gemeente uitgestal sodat die publiek dit kon bewonder. Elke beertjie het sy eie kleur, karakter en ’n Bybelvers, wat sorgvuldig deur Anso van Rooyen, eienaar van Ons Winkel Bethlehem, geborduur is. Soreta Potgieter, een van die projekorganiseerders, het die Bybelverse vasgewerk en tydens die proses vir elke toekomstige ontvanger gebid. “Sommige van die beertjies het nie monde nie, en dit het my laat dink aan mense, kinders én volwassenes, wat nie ’n stem het nie. Selfs in stilte herinner God ons dat ons waardevol is,” sê sy.

Die Beertjie-projek spruit uit Solidariteit Helpende Hand se Breinaald-projek, wat landwyd mense aanmoedig om hul brei- en hekelvaardighede vir ’n groter doel te gebruik. Deelnemers, veral bejaardes, maak komberse, serpies, sokkies en ander items vir kwesbare mense in hul gemeenskappe.
Van Augustus af sal die Bethlehem-beertjies begin om hul nuwe tuistes te vind. Elkeen is bestem om lig en troos te bring aan iemand in nood. Solidariteit Helpende Hand se Vrystaat-streek bedank elke vrywilliger wat tyd, talent en liefde ingespan het om hierdie projek moontlik te maak.
Vir meer inligting oor die Beertjie-projek en ander inisiatiewe, besoek www.vrystaathand.co.za.